Vermont

Deelstaat Vermont
alt alt
Vlag van Vermont Seël
Bynaam(e): The Green Mountain State
alt
Kaart van die Verenigde State met Vermont uitgelig
Amptelike taal(e) Engels
Gesproke taal(e) Engels; klein minderhede Frans- en Spaanssprekendes
Inwonernaam Vermonter
Hoofstad Montpelier
Grootste stad Burlington
Area  45ste in die V.S.
 - Totaal 24 923 km2
 - Wydte 130 km
 - Lengte 260 km
 - Water 949 km2
 - % water 3,8 %
 - Breedtegraad 42°44'N tot 45°0'N
 - Lengtegraad 71°28'W tot 73°26'W
Bevolking  49ste in die V.S.
 - Totaal 625 741
 - Digtheid 26,1/km2
30ste in die V.S.
Hoogte  
 - Hoogste punt Mansfieldberg
1 340 m
 - Gemiddeld 300 m
 - Laagste punt Champlainmeer
29 m
Toetrede tot die Unie  4 Maart 1791 (14de)
Goewerneur Phillip Scott (R)
Luitenant-Goewerneur David Zuckerman (P)
Wetgewer Vermont Algemene Vergadering
 - Hoërhuis Senaat
 - Laerhuis Huis van Verteenwoordigers
V.S. Senatore Patrick Leahy (D)
Bernie Sanders (onafh.)
Tydsone UTC -5 / Somertyd -4
Afkortings VT US-VT
Webblad www.vermont.gov

Vermont ([vɚˈmɑnt], Engels: State of Vermont) is 'n deelstaat in die noordooste van die Verenigde State van Amerika met 'n oppervlakte van 24 923 km² en 'n bevolking van 625 741 (2010).[1] Vermont is ten opsigte van sy bevolking die tweede kleinste VSA-deelstaat na Wyoming. Sy hoofstad is Montpelier (7 855 inwoners, 2010), die grootste stad is Burlington.

'n Uitsig oor die Champlainmeer in die weste van die deelstaat wat hier 'n natuurlike grens met New York vorm. Die foto is geneem vanuit die ou vuurtoring op Poke-O-Moonshine Mountain, 'n bergpiek in New York
Die ski-oord Killington

Vermont word begrens deur Massachusetts in die suide, New Hampshire in die ooste, New York in die weste en die Kanadese provinsie Quebec in die noorde. Dit is 'n oorwegend landelike deelstaat, maar is nogtans strategies geleë tussen die metropolitaanse gebiede van Montreal, Boston en New York.

Vermont is die tweede grootste, maar ook enigste landgebonde deelstaat in Nieu-Engeland, met 'n verskeidenheid landskapsvorme en ekostelsels wat onder meer die Green Mountains-bergreeks in die weste en die Champlainmeer in die noordweste insluit. Die Franse verkenner Samuel de Champlain het in 1609 met Vermont ("Groen berge" in Frans) 'n gepaste naam vir die groen en vrugbare streek gekies. Vier eeue later is groot dele van Vermont nog steeds 'n enklawe van ongerepte wildernis, met dig beboste golwende heuwels en valleie. Die staat is bekend vir die kleure wat sy bosgebiede in die nasomer vertoon en sy eersterangse ski-oorde. So lok Vermont jaarliks sowat agt miljoen toeriste.

'n Aantal stamme van die Eerste Nasies soos die Abenaki, Algonkin en Irokese was die eerste bewoners van die gebied. Later het Frankryk aanspraak gemaak op die gebied van die huidige Vermont, maar uiteindelik het dit ná die Franse se neerlaag in die koloniale oorloë teen Brittanje 'n Britse besitting geword.

Vermont het 'n tyd lank 'n omstrede gebied gebly, maar danksy hulle Green Mountains Boys-burgermag het setlaars uit die destydse Province of New Hampshire uiteindelik die oorhand gekry. Ná veertien jaar se onafhanklikheid as Republiek van Vermont was Vermont die veertiende staat wat by die Verenigde State aangesluit het. Vermont is een van slegs vyf state of dele van state wat vroeër as 'n onafhanklike nasie bestaan het – naas Kalifornië, Hawaii, Texas en die Florida-parogieë van Louisiana. Vermont se geskiedenis besit 'n lang lys onafhanklike denkers en liberale politici soos Ethan Allen, Matthew Lyon, George Aiken, Jim Jeffords en Bernie Sanders.

Naas sy natuurskoon en liberale denkers staan Vermont ook bekend vir sy suiwelprodukte. Die staat is ook die vernaamste produsent van esdoringstroop in die VSA.

Landbou, veeteelt, bosbou, steengroewe, werktuig- en tekstielnywerheid is die belangrikste bronne van inkomste. Die marmergroewe van Vermont het in die 19de en 20ste eeu die stene vir baie van Amerika se bekendste geboue opgelewer, soos byvoorbeeld die Jefferson-gedenkteken, die Hooggeregshof en die Verenigde Nasies se hoofkwartier in New York. In die sewentigerjare het baie ondernemings uit die Franssprekende Kanadese provinsie Quebec hulle in Vermont gevestig.

  1. (en) "U.S. Census Bureau – 2010 Census Data". Geargiveer vanaf die oorspronklike op 15 Februarie 2012. Besoek op 17 Februarie 2011.

© MMXXIII Rich X Search. We shall prevail. All rights reserved. Rich X Search